Skoongrappies - Moppen in het Afrikaans

(bron: www.skoongrappies.com)

* My suster was op soek na 'n nuwe badkamerskaal en ek deursoek die winkels saam met haar. By 'n winkel kry sy ene waarvan sy hou en vra my om myself te weeg. Ek klim op en sê verbaas: Ek het gedink ek weeg 60 kilogram, maar dit lyk my ek weeg net 58 kilogram. Met 'n breë glimlag antwoord my suster: Dis die skaal wat ons nodig het. 

* Die sesjarige kom huil by sy ma dat sy klein tweejarige sussie sy hare getrek het. 'Moenie vir haar kwaad wees nie,' troos die ma. 'Jou klein sussie weet nie dat dit seer is as iemand jou hare trek nie.' 'n Rukkie later word daar weer gehuil en mamma gaan kyk wat het gebeur. 'Sy weet nou,' verduidelik die boetie.

* Ek en my man Michael was saam met sy baas, nogal 'n ernstige middeljarige man by 'n restaurant. Michael begin 'n storie vertel wat ek seker was hy al voorheen vertel het, en ek skop sy maermerrie onder die tafel. Geen reaksie. Ek skop weer, maar die storie gaan aan. Ewe skielik vra Michael: 'O, maar ek het alreeds hierdie storie vir julle vertel, het ek nie?' Ons almal lag en die gesprek gaan voort oor 'n ander onderwerp.

Later op die dansbaan vra ek hom hoekom dit hom so lank gevat het om met die storie te stop nadat ek hom geskop het. 'Maar ek het gestop direk toe jy my herinner, het ek nie?' vra hy, en ons besef met 'n skok wat gebeur het. Skaam loop ons terug na die tafel en vra verskoning. 'Toemaar,'antwoord die baas, 'toe ek die tweede skop kry besef ek dis nie vir my bedoel nie en ek gee dit toe maar deur.'